Die son sak vir ons oor San Carlos de Bariloche

Vandag bly ek by die huis. Abré gaan kos koop saam die kinders en ek gaan vir vanaand kos kook, want hier is ‘n oond! Kampstofies raak lekker boring! 

Ek was wasgoed, in die stort se bad. Hier is die stortvloere redelike diep baddens en elke stort het ‘n kraan bo en onder. Ek het baie wasgoed. Dis die lekker vuil klomp klere van die stofkampery en die aslopery by die krater. Roby se plek het ‘n klein tuintjie agter en ek hang alles daar op ‘n wasgoedstaander en twee plastiek stoele. Dit behoort die ding te doen. Nou is alles skoon, gewas en vars vir Chile! 

Abre is terug. Janko dring aan daarop om French toast te maak vir middag ete. Terwyl hy doenig is maak ons reg en pak en sorteer. Dink en beplan. Beste stop, watter dorp gaan ons stop en so gaan die dag sy gang. 

Nou is die botteltjie konfyt wat ons gekoop het in El Hoyo ook sommer klaar. Ek maak vleis, aartappels en wortels en uie in die oond in ‘n oondbak wat ek uitgegrawe het en eers gewas het. Mens weet nooit! 

Dis nog lig so ons besluit om na die ski-slopes te gaan kyk en Cerra Otto uitkyk bo in die dorp. Dis moeilik om alles so sonder sneeu uit te werk…waar is die slopes, hier is die ski-lift en so staan ons rond en kyk uit oor Nauhel Huapi. Dalk die laaste keer. 

Ek het baie van vandag se foto’s klaar gepost in gister se gekryf, maar hier kom dit maar weer. 

Die son sak oor die meer en Janko en Lenka neem mooi foto’s. 

Toe die kos uit die oond kom en met rys bedien word, en slaai…verbeel jou is Lenka se woorde: “Die lyk soos ouma se kos, hier kort net boontjies!” Wel daar verlang hulle sommer na Ouma ook! Janko eet hom knuppeldik aan die oondgebKte stew. Dis stort, rugsakke finaak deurkyk en sorg dat alles in is. Ek haal een paar Long-johns uit wat Janko sê hom pla en hy nie gaan dra nie. Lenka los een langmou hempie agter want die kort arms pla haar. Roby se dogtertjie Sophie sal dit wel erf. Ons los aftersun van Rio se dae en aaklige sonblok wat ons ook daar gekoop het. Dit alles gee meer spasie en ‘n bottel of twee maak die dra ligter. Ons het nou ‘n bietjie kos wat ook in die sakke moet pas. Dis koffie, suiker, rys, pasta en so paar kruie. Die kinders se maté bekers en Lenka se bal. Rietfluite wat hulle gemaak het toe ons gekamp het by Pampa Linda. Niks vars nie. Sal maar sien of ons dit in Chile kan invat. 

Ek stel ‘n wekker…dis min dat ek dit doen deesdae. Môre nuwe avonture! 

Leave a Reply

Your email address will not be published.