Purmamarca

Ons is terug in Argentina, die ontbyt is weereens café, té en die mees dekadentste crossants, met vla en heuning, nes mens dit nie so vroeg moet eet nie. When in Rome…

Die strate is stil, dis te vroeg. Ons stap kortbroek en kaal arm die berg uit. Ons wil die kleure van die heuwels bekyk, en darm net bietjie die fiksheid ophou, of onsself troos… Ons stap teen die bult uit tot by die eerste mirrador. Van daar terug met die berg op na die kruis op die kruin. Die paadjie word nie baie geloop nie, maar ons volg dit op die maps.me app en kronkel teen die berg uit. Dan bereik ek weer my limiet en draai om. Janko en Abré stap verder en ek en Lenka gaan die vallei in opstap en kyk wat ons te siene kry. Ons neem foto’s en nog foto’s. Die berg van sewe kleure. Ek is seker ons sien meer! 

Ons stap die strate van Purmamarca rond, sommer net drentel en kyk. Neem die rustigheid in en relax. Ons vra rond vir spyskaarte, sien wat te ete aangebied word en besluit dan om weer die lekker mielie pakkies te bestel. Dis nie vir Lenka nie, sy eet twee heerlike klein hoender pasteie. Janko is versot op die Tamale wat vleis ook bevat en ek hou weer van die plain ene Humida. Ek beter dit google. Dit word gepak en lyk my in die blare gestoom. Na middagete is ons redelik aan die koue kant. Ons stap so draai deur die mark op die plaza en besluit om eerder te gaan aantrek en dan verder te loop. 

Janko is oppad terug na Shafel toe, die oom by wie hy sy blou trui wil koop. So gewil en so gemaak. Lenka is reg vir rondsoek. Dis hier kyk en daar aanpas. Dan kyk en vergelyk, mooi vra en dankie sê. Sy weet wat sy soek. Uiteindelik het sy haar poncho. Nou wil Janko ‘n broek ook koop. Hy het vroeër met twee meisies in ‘n winkel gesels, seker so 6 en 8 jaar oud en hulle het vir hom broeke gewys. Hy is oppad terug en vra weer na die broeke. Hy koop ene…kan jy glo! 

Janko is baie beindruk met die mark. Hy reken mens kan hier leef. Jy koop kos en klere sommer so op die straat, dis maklik. Ons skud maar net ons ore en stap aan. 

Ons kom terug in die dorpie, en stap na die carneseria, maar die is steeds gesluit. Ons koop pampoen, uie en appels. Nou gaan ek Salomé se butternut sop maak. Ons koop broodjies en is oppad huistoe! Dis koud. Tuis gekom maak Abré sy wyn oop, sny sy bokmelk kaas en Batata. Dit lyk soos jellie en ons het dit al oral gesien. Dis egter nie so soet nie, en ‘n tipe jellie tekstuur. Heel lekker saam die kaas. Ek sien jy sit sommer die hele blok op deeg en bedien dit as koek. Mapstieks. 

Ek maak sop, lekker pampoensop, die kinders speel ipad, en almal is sommer net rustig. Vanaand beter ek goed slaap…

Leave a Reply

Your email address will not be published.