Sucre se 5055 Dino voetspore

Abré sit al vroegdag en kyk wat ons kan doen om weer in Rio te kan kom. Ons sal nie alles kan doen nie, of die Amazone of Galapagos. Ai, dis moeilik, want vlugte in Peru is peperduur en verder moet ons kyk van waar ons wat kan doen sodat ons nie net op en af en heen en weer reis nie. 

Ontbyt is deesdae beter want ons koop sommer ons eie Avo en tamatie en maak hulle brood en koffie iets om te kan hou. Na ete ontmoet ons ‘n Kanadese paartjie wat ook met twee kinders die wêreld in die Suide plat toer. Hulle het twee jaar om dit te doen, maar soos ons kla hulle dat alles baie duurder is as wat hulle gedink het. 

Ons gesels lank, te lank. Uiteindelik is ons gepak, tasse teen die muur en ons is oppad om die Dinasaurus voetspore te besoek. Iets vir Janko. Ons vat die local bussie vir 6$ vir al vier saam na die dino park. Die taxi vra 60$ en die toeriste bus 50$ per persoon. Ons gaan maar local! Dis seker so 30min se ry deur die stad. 

Die dino voetspore lê teen een hoë wal. Die voetspore is deur ‘n sement fabriek, wat tans nog in volle werking is, ontdek. Die wal kan van ‘n afstand bekyk word, maar mens dra maar ‘n harde hoed ingeval klippe afval op jou kop. 

 

Daar is vier soorte dinasorusse wat deur die modder hier voetspore agtergelaat het. Nee, hulle het nie die wal uitgeklouter nie, die wal is deur tektoniese plate so opgedruk en daarom is dit teen die helling te siene. Van ver lyk dit klein, maar hoe nager mens kom, hoe groter van die voetspore. Om die hele prentjie so te sien is nogal oulik. Jy sien die reguit paaie wat gestap is en dan ene wat sommer so dwars kruis gevoeter het. Teen die hello g kan jy nie dink daar is altesaam 5055 voetspore te siene nie. 

Na ons besoek vat ons weer die bussie terug. Hier sien ek een van die mees interessantste goed in my lewe. Ek hang by die venster uit en bekyk die strate om my, terwyl die locals in die strate vir my vinger wys en my aankyk. Ewe lekker. Dis spitsverkeer in Sucre se armer dele, groot mark en Sondag middag aktiwiteit. 

Die bussie staan stil. Langs my verkoop ‘n omie budgies, of so dink ek. Drie jonges staan om hom rond, hulle lyk heel goed en welaf en sommer uit plek. Een koop ‘n budgie. Onder die hokkie trek die omie ‘n laaitjie uit. Hy sit die geld in die laaitjie en aan weerskante van die munte laai, is daar letterlik honderde papiertjies opgevou en mooi ingepak. Die koutjie word oopgemaak, een van die budgies kom uit. Hy hop op die papiertjies rond, pluk aan ene, los dit en woerts pluk hy ‘n ander ene uit… Die omie tel die papiertjie op. Gee vir die kêrel en terug met die voëltjie, hok toe! My bek hang oop! Die klomp ouens lag vir my en ek probeer net verstaan wat ek sien gebeur! Jammer ek kon dit nie op video kry nie! Die prentjie egter helder…as ek weer ‘n budgie in ‘n koutjie sien sal ek my kamera reghou!! Ek neem aan dit is maar ‘n fortuin verteller wat nie die jongmanne se lot op homself wil neem nie, so die arme ou budgies moet die lot dra…gelukkig kan dit soos water van ‘n “eend” se rug afrol! 

Ons ry terug, en stap so ent deur die dorpie. Hier soek ons nou middagete voor ons die bus verder vat. Die winkels maak toe, en ons sien maar net kleiner stalletjies wat oop is met lekkernye. My vriendin Elnett maak haar eie marshmellows, so toe ek die stalletjie sien kon ek nie verby loop nie. Ons koop ‘n pakkie, net om te proe. Dis tuisgemaak, verseker lekkerder as die in die winkels, maar nie naby Elnett se aarbei marshmellows nie! Die tweede stopplek is die tannies wat koek verkoop. Dis immers moedersdag so Lenka en Janko oortuig vir Abré om vir Mammie koek te koop…ek sê niks…

Uiteindelik gaan eet ons vegan by ‘n oulike plek. Dis ‘n non-profit plekkie wat toere ook doen en die mense wat hier werk is almal vrywilligers. Die kos is regtig baie lekker, vars en bietjie anders as wat ek en die locals maak! Tot die soutpot is vir my oulik, uit klei, die tipiese Boliviaanse tannie met vlegsels, pakkie op die rug en baba skuins op die heup, net jammer dis nie in kleur gedoen nie! 

Nou terug Hostel toe om ons tasse te kry. Ons gesels weer met die Kanadese, hulle is oulike mense. Ons is oppad! Ons kry ‘n taxi en nou wag ons. Die bus lyk luuks, ons sit onder in Full Cama! Heerlik! Ons sukkel ons vrek om ons veiligheidsgordels uit te kry, want dis net ons wat dit gebruik…

Nou kyk ons weer ‘n skop skiet en bliksem fliek, of altans probeer dit vermy. Later bind ek my baadjie oor die skerm, lyk tog of niemand hier onder die fliek kyk nie. Ek blog, Abré slaap en so kronkel die bus die nag die bergpas uit, oppad terug na Potosí se kant, van daar draai ons af en op een of ander stadium is dit snelpad tot in LaPaz. Die kinders sê hulle is honger, maar ek het niks gekoop nie. Hopenlik stop ons iewers! 

Op ‘n stadium stop die bus en baie mense klim uit. Seker ‘n piepiestop. Langs die bus staan die mans in een lang ry en doen hul ding. Die vrouenes stap aan, ek weet nie waarheen nie, seker ‘n obskure toilet iewers. Dis hier by 23:00 rond. 

03:00 stop die bus weer. Ek maak Janko wakker om ‘n draai te loop…sommer net daar teen die muur langs die bus. Ek stap oor die straat en kyk of ek aandete kan koop. Almal is nou wakker. Ek koop broodjies en kaas, tuisgemaak. Toe ek uitstap verkoop ‘n vrou broodjies met ‘n keuse van vleis of eier. Ek vat eier. Sy braai die eier in olie en saam dit so handjie vol slapchips. Die word saam in ‘n bun gegooi en dan kan jy opgooi wat jy wil, ek gooi nada op. Die is nou aandete vir die kinders. Ek en Abre doen die brood en kaas. Ons is oppad, almal is tevrede en gaan slaap. Dis koud, ek en Abré trek baadjies uit vir die kinders sodat hulle beter kan slaap. Die nag is lank, koud en ongemaklik…maar gelukkig het ons veiligheids gordels aan!

Leave a Reply

Your email address will not be published.