Ipanema strand

Ons vat die pad strand toe. Lenka is baie beter. My neus loop, seker die aircon op die bus. Abré is reisagent toe en gaan kaartjies finaliseer. 

Ons stap strand toe…of dis wat ons dink. Eers na die meer, draai om en stap strand toe. Dis 4 blokke, en jy kan kies wat jy soek. Beide het mooi paadjies vir draf, fietsry en stap. Die nuwe Carioca leefstyl. In Búzios het ons een aand saam Alina gaan eet. Sy sê ‘n paar jaar terug was niemand bewus van gesondheid nie. Nou wil almal Carioca leefstyl hê. Laat kuier, baie oefen. Nou is tot 9% van die bevolking vegetariers, iets wat nooit eers ‘n opsie was nie. Almal draf, enige tyd van die dag is die paadjies vol fikse mense of die oppad iewers heen fikse mense. 

Ipanema strand het darm ‘n golfie of twee. Ons is nie gewoond aan die stil waters nie. Daar is min mense maar ons kuier lekker. Swem, sonblok, swem, sonblok, sandspeel, sonblok…en nog sonblok.  Hoede, hempies en sonblok. Ek voel aaklig. Dink die baie slym maak my naar, maar die kinders speel lekker. 

Ek koop vir hulle elkeen ‘n limón en een of ander ander mix drankie en vir myself water…soos ek maar is lees ek als. Die water bevat gelukkig nie gluten nie! 

Wat ons ook opmerk is dat die verpakking vreeslik dun is. Waterbottels en die blikkies ook. Baie dunner as wat ons aan gewoond is. Jy kan amper nie die bottel met een hand vashou nie, hy gee mee. 

Teen 17:30 kan ek nie meer nie. Huiswaards. Ek is hond siek en naar. Net betyds by die woonstel om op die bed te lê en te slaap. Hopenlik is my naarheid nou ook uitgewoed. Wat verder om my gebeur weet ek niks van nie. Uit soos ‘n kers! 

Leave a Reply

Your email address will not be published.